Ons Bedieninge

Diens van Barmhartigheid
Een van die belangrikste opdragte van Jesus aan die kerk is dat gelowiges na mede-gelowiges wat in nood verkeer, sal omsien. Ons Diens van Barmhartigheid vervul hierdie rol in die gemeente, onder andere deur die voorsiening van kospakkies aan ‘n hele aantal huisgesinne. Insgelyks word klere, komberse en ander huishoudelike items voorsien soos en wanneer die behoefte ontstaan.

Batebestuur
Die bestuur en instandhouding van ons bates soos geboue, gronde en toerusting is van groot belang om te verseker dat ons gemeente-aktiwiteite glad en koste-effektief uitgevoer kan word. Batebestuur sien onder andere om na die instandhouding van twee kerkgeboue – een in L’Agulhas en een in Struisbaai – asook die pastorie in Struisbaai.

Diensverhoudinge
Die taakspan vir diensverhoudinge sien om na die vergoeding asook die effektiewe dienslewering van die leraar en ander werknemers in diens van die gemeente. Die diensgroep bestuur ook die verhouding tussen die gemeente as werkgewer en die leraar en ander amptenare as werknemers.

Fondsebestuur
Die gemeente se fondsebestuur sluit in die toekenning en monitering van en algemene oorsig oor finansiële bronne om ons talle behoeftes en aktiwiteite te ondersteun. Dit word gedoen binne ‘n raamwerk van finansiële volhoubaarheid, aanspreeklikheid en deursigtigheid.

Gemeenskapsbediening
Verskeie van ons lidmate is betrokke by die gemeenskap van Struisbaai-Noord, veral deur middel van die Onse Hoop Gemeenskapsentrum. Hier is hulle betrokke by ‘n wye verskeidenheid aktiwiteite, soos ‘n handwerkgroep, klub vir bejaardes, voorsiening van etes aan behoeftige bejaardes, jeugaktiwiteite om negatiewe invloede teen te werk, voorsiening van beurse aan verdienstige leerlinge, en selfs vir ‘n tersiêre student, en die plaaslike polisiëringsforum.

Jeug
Ons jeugbediening is in twee strome verdeel, nl. laerskoolkinders tot en met Graad 6, en dan vanaf Graad 7 plus hoërskoolkinders. Jeugbediening is een van die vier pilare van ons geloofsreis, en tans word daar in diepte gekyk na hoe hierdie bediening uitgebrei kan word om in verskillende groepe se behoeftes te voldoen.

Koor
Ons het ‘n lewendige groep musiekentoesiaste (of ‘cantores’, soos ons koorleidster na hulle verwys) wat pragtige koorsang lewer. Die koor tree gereeld op by ons Nagmaaldienste, ons Kerssangdiens, Paasfees, en ander geleenthede. Ons het ook al saam met die Hugo Lambrechts Jeugkamerorkes opgetree. Die koor is ‘n hegte groep wat deur sang en vriendskap saamgebind word.

Lidmaatbediening
Lidmaatbediening is daarop gefokus om die geestelike groei van lidmate te bevorder en die gemeenskap van lidmate te versterk. Dit sluit in aktiwiteite soos kleingroepe, erediensbestuur, spesiale funksies vir lidmate en die integrasie van nuwe lidmate in die gemeente.

Gasvryheid
Met die wye verskeidenheid aktiwiteite waarby die gemeente, intern sowel as ekstern, betrokke is, is dit belangrik dat gasvryheid nie agterweë bly nie. Dit is ook een van ons waardes, en as die kerk van Jesus wil ons een en almal welkom en tuis laat voel deur die gasvrye wyse waarop ons mense ontvang en by aktiwiteite laat betrokke raak.

Projekte- en funksiebestuur
Hierdie uithalerspan sien om na funksies soos ons basaars en verkopings om fondse in te samel. Ons het ‘n somerbasaar, herfsbasaar en lentebasaar! Dan doen ons voorts kleiner verkopings om bedieninge soos barmhartigheid en uitreike finansieel te ondersteun. Ons is ook al lank betrokke by die diepseehengelaars van Suid-Afrika, met hulle jaarlikse junior en senior nasionale kampioenskappe in Struisbaai, waar ons die spyseniering voorsien.

Uitreikbediening
Ons is betrokke by verskeie uitreike, plaaslik, nasionaal en internasionaal:
- In Struisbaai self is ons ‘n gereelde medewerker by die maandelikse All Pay verkoping ten bate van die gemeenskap van Struisbaai-Noord.
- In Robertson in die Wes-Kaap ondersteun ons die dogters van Ons Herberg Kinderhuis met allerlei benodigdhede en gereelde besoeke.
- In KwaZulu-Natal is ons op ‘n deurlopende basis betrokke by die gemeenskap van Msinga, waar ons finansiële en ander ondersteuning bied, onder andere aan die leraar daar ter plaatse. Ons besoek die gemeente ook een keer per jaar, waar ons met die gemeenskap op verskeie vlakke skakel.
- Verder in Afrika is ons betrokke by Walking with Maasai in Suid-Kenia. Dit is ‘n liefdadigheisorganisasie wat deur plaaslike visioenêre Maasai-leiers in samewerking met vriende uit Suid-Afrika en die Verenigde State gestig is. Die organisasie ondersteun gemeenskapsprojekte wat ten doel het om die plaaslike gemeenskap op te lei en te bemagtig met die oog op die verbetering van lewensomstandighede.
- Ons ondersteun ook Veritas in Noord-Afrika, ‘n organisasie wat fokus op die opleiding van Christene, met die oog op die bevordering van Bybellees en leierskap in gemeentes.