Ons herkoms

Die gemeente het sy eerste treë in die vroeë vyftigerjare gegee, en byeenkomste is destyds in die opelug en later in die gebou van die huidige L’Agulhas Kafee gehou. Die gemeente was toe nog deel van die Bredasdorp-gemeente. In 1963 is die huidige gebou in L’Agulhas opgerig, en het die inwoners en vakansiegangers ‘n formele kerkgebou gekry. Die dienste is aanvanklik deur besoekende leraars hanteer, maar daar is gou besef dat ‘n voltydse leraar uit Bredasdorp aangestel sal moet word. Die gemeente in L’Agulhas het daarna van krag tot krag gegaan totdat daar in 1996 besluit is om van Bredasdorp af te stig. So kom die NG Kerk Suidpunt tot stand, ook met die oprig van nog ‘n kerkgebou in Struisbaai, sodat die gemeente tot vandag toe uit twee sentra bedien word.

Ons karakter

Ons gemeente is deel van die familie van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, met die gereformeerde belydenis as fondament van ons geloof, werk en samesyn. Ingevolge hiervan is daar vir ons slegs een kriterium: die gesaghebbende Woord van God. In alles wat ons doen, is dit belangrik dat ons onsself onderwerp aan die waarheid van die Woord.  Voorts bely ons die unieke boodskap van die Woord dat die verhouding tussen God en mens ‘n verhouding is wat slegs op grond van die inisiatief van God ontstaan en in stand gehou word.  Binne hierdie konteks verbind ons ons ook tot die uitleef van die vyf solas van die hervorming, naamlik:

Sola Scriptura

Die Skrif alleen

Sola Gratia

Genade alleen

Sola Fide

Geloof alleen

Solus Christus

Christus alleen

Soli Deo Gloria

Aan God alleen die heerlikheid

Vir meer oor gereformeerde spiritualiteit, klik hier.

 

Ons visie

God is ons lig.

Laat Sy lig ons diensbaar maak aan die suidpunt van Afrika.

Verklaring van die visiewoorde:

  1. Ons aanbid die Drie-enige God. (Joh 4:23; Ps 104)
  2. Deur sy oorvloedige genade is daar vir ons nou reeds die ewige lewe. (Joh 1:6)
  3. Sy Lig/Woord wys ons die weg. (Ps 119:103)
  1. Sy lig is waarheid en maak ons regverdig.
  2. Sy lig gee liefde, warmte, vrede en vreugde.
  3. Sy lig gee groei, hoop, krag, geloof en kennis.

Ons is die lidmate van die NG Kerk Suidpunt asook elke gelowige (ongeag kultuur, taal of herkoms) wat die Here op ons weg plaas. (1 Kor 12:12-14)

  1. Wat ons van God ontvang, deel ons in gehoorsaamheid mee.
  2. God se lig/liefde roep ons tot barmhartigheid teeonoor almal in nood.
  3. God maak ons vissers van mense waar ons ander en mekaar van Hom leer.
  4. Ons is hier om te dien en nie om gedien te word nie.
  5. Vir hierdie doel rus God ons deur sy Gees toe, sodat ons mekaar onderling sal versterk en almal sy lig in ons sal sien.

Ons is nie bloot toevallig hier aan die mees suidelike punt van Afrika woonagtig nie. Ons is hier deur God gevestig om sy lig juis hier te laat skyn. Ons erken Hy lei baie mense hier na ons bedieningsgebied sodat hulle sy lig juis hier kan kom ervaar. (1 Tess 1:7-10).

Ons waardes

Dankbaarheid

Geloof

Gebed

Vrymoedigheid

Gasvryheid

Uitreik

Eensgesindheid

Die vier fokusareas van ons geloofsreis

Dissipelskap

Volgens Bybelkennis.co.za word die woord dissipel vertaal met leerling, vakleerling of volgeling. In die tyd van Jesus Christus het die dissipels Hom as rabbi (of leermeester) gevolg. Waar Hy gegaan het, het hulle gevolg. Hulle leer deur sy onderrig, maar ook deur te kyk wat Hy doen, en dan te doen wat Hy doen. Jesus Christus het sy dissipels geroep om Hom te volg, en doen dit ook vandag nog. Die eerste dissipels het nie geweet waarheen Jesus hulle gaan neem nie. Hulle het wel geweet wat dit beteken om te volg – hulle gaan oral waar Hy gaan en sien alles wat Hy doen. Hierdie beginsels lê ook aan die kern van wat ons met dissipelskap in ons gemeente wil bereik. Verskeie modelle om dissipelskap te bevorder word tans ondersoek.

In enige gemeente is die betrokkenheid van lidmate van kardinale belang vir geestelike groei en gemeentebou. Ons is geseënd met vele aktiewe lidmate wat hulle gawes op verskeie wyses uitleef tot voordeel van die liefdesgemeenskap van gelowiges. Daar is heelparty aksies waarby lidmate betrokke kan raak. Om te sien waar jy tuis sal voel om betrokke te raak, klik hier.

Betrokkenheid

Versorging

Een van die kernopdragte van die kerk is om om te sien na die versorging van die gemeenskap van gelowiges. In ons gemeente het ons ‘n span versorgers wat saam met die Kerkraad werk om seker te maak lidmate word versorg op geestelike, emosionele en fisiese gebied. Die versorgerspan kry ook leiding t.o.v. spesifieke vaardighede om hulle taak effektief uit te voer. Versorgers word geografies ingedeel volgens wyke, elk saam ‘n ouderling en diaken. Hierdie spannetjie neem dan verantwoordelikheid vir lidmaatversorging in hulle onderskeie wyke. Jy is baie welkom om met jou versorger in verbinding te tree. Klik hier vir die die versorgingspan in jou wyk.

In die tyd waarin ons leef waar tradisionele waardes, en veral kerklike waardes, fel aangeval word, is dit belangrik dat die kerk ‘n emosionele, morele en sosiale anker vir die jeug bied. Hierdie anker kan slegs in Jesus gevind word. Daarom is ons doelwit met ons jeugbediening om ons kinders, tieners en jong volwassenes te begelei op die ontwikkeling van hulle verhouding met Jesus. Verskeie strukture is in plek om hieraan uitdrukking te gee, en meer inisiatiewe word ook beplan om ‘n geestelike tuiste aan ons jong lidmate te bied. Klik hier as jy jou kind by ons kategese wil laat inskakel, of indien jy as jong volwassene wil betrokke raak.

Jeugbediening