Gereformeerde spiritualiteit verwys na die tradisie wat onstaan het in die Protestantse Hervorming en hoe die Hervorming uitgespeel het in die lewe van Johannes Calvyn, Ulrich Zwingli, en die Hollandse, Switserse, Skotse en Franse kontekste. Sheldrake (2005: 533) reflekteer dat die “breadth and variety has remained a characteristic of the Reformed family in the nineteenth and twentieth centuries”.
Gereformeerde spiritualiteit as deel van die groter Hervormings-beweging omarm die sogenaamde solas, wat geformuleer is in reaksie teen die Rooms-Katolieke teologie van die dag. Hierdie is: Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fidei, Sola Christi en Soli Deo Gloria. Hierdie solas is sentraal tot Gereformeerde denke en erken dat verlossing ʼn vrye gawe is en nie bepaal word deur menslike handelinge buite Jesus, genade en geloof om nie. Die Skrif is omarm as die enigste bron van teologie, nie die Skrif en tradisie nie.
In Gereformeerde spiritualiteit is die soewereiniteit van God belangrik. Daarom is God alle eer waardig (Soli Deo Gloria) en nie menslike insette nie. Dit is ʼn tradisie wat gegrond is in die transendente andersheid van God (Sheldrake 2005: 533). Soos vroeër in ʼn boek opgemerk het die Middeleeuse wêreld gefokus op die immanensie van God in die sakrament. Die Hervormers skok met die oortuiging dat die tydelike dinge nie die ewige kan bevat nie, net God kan hierdie gaping oorbrug in sy openbaring. God het gekom as die Woord wat vlees geword het en word werklik deur die Gees in en deur die woorde van die prediker. ʼn Spiritualiteit van die oor word
nou vervang deur ʼn spiritualiteit van die oog wat ook gereflekteer is in die soberheid van die aanbiedingsruimtes (Sheldrake 2005:533). Gereformeerde spiritualiteit is sterk Skrifgeoriënteerd en word ontdek in die prediking van/oor God.
Die oortuiging van God se soewereiniteit laat God toe om God te wees in God se andersheid en vreemdheid (Sheldrake 2005: 534). Belden Lane (2011: 5), verwys na hierdie soewereiniteit in sy identifisering van vyf – volgens hom kragtige oortuigings – van Gereformeerde spiritualiteit:
A response of awe before a grand and powerful God, seen in the majesty of sky and sea, and in the transformed lives of those whose stories are recounted in Scripture.
An amazement that this same God is full of grace and love, evoking a response of gratitude, even adoration.
A need to probe the intellectual mysteries of faith, while recognizing the metaphorical, accommodating, and limited nature of all theological language.
A concern to carry theological reflection to its completion in the transformation of culture and the exercise of justice in society.
A view of the church as an organic and interdependent unity of diverse peoples, knit together by Word and Sacrament into the Body of Christ.
Vir Alister McGrath (1995) kan die volgende vier basiese temas beskou word as onderliggende aan die spiritualiteit van die Hervorming:
> “It is grounded and nourished in the study of Scripture” (1995: 34).
> “Reformation spirituality insists that the quest for human identity, authenticity and fulfilment cannot be undertaken in isolation from God”. Soos ons gesien het in Deel Vier, is die kennis van God en kennis van onsself interafhanklik. Spiritualiteit is nie die soeke na ʼn verhoogde geloofservaring as ʼn einde in sigself nie of blote kennis oor God nie: “To know God is to be changed by God” (1995: 41).
> “Reformation spirituality explicitly recognises the priesthood and vocation of all Christian believers” (1995: 43). Hierdie element was radikaal in sy historiese konteks waar slegs priesters toegelaat was om in te tree vir persone.
> “Reformation spirituality is grounded in and orientated towards life in the everyday world, enabling Christians to involve themselves firmly and fully in the life of the secular order, while at the same time lending it new meaning and depth”. Die element onderstreep die rol van die gelowige in die wêreld (1995: 47) en deelname in die strukture van die wêreld. Die boonste basiese temas wat geïdentifiseer is deur McGrath wys hoe die vyftiende eeuse Reformasie gereageer het op die spiritualiteit, kerkpraktyke en institusionele van die dag. Gereformeerde spiritualiteit omarm ʼn vloeiendheid en het die insig dat die Woord steeds in elke tyd en konteks geïnterpreteer word. Hierdie moontlike en potensiële reoriëntasie word vasgevang in die woorde: ecclesia reformata, semper reformanda verbum Dei (die kerk van God hervorm altyd in ooreenstemming met die Woord van God)
Gereformeerde spiritualiteit is gevul met woorde soos troos, genade en dankbaarheid soos gereflekteer in die Heidelbergse Kategismus waar die gelowige herinner word dat die plek van waaruit hy of sy lewe een is van troos en behoort aan Christus wat lei na ʼn lewe gevul met dankbaarheid as die ontvanger is van God se goedheid (… dat ek nie aan myself behoort nie maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus). Hierdie kennis lei tot ʼn lewe van dankbaarheid en vryheid om God en die naaste te dien en dit word gemanifesteer in dade van geregtigheid.
Die verbond, verkiesing, en roeping van gelowiges funksioneer sterk. Alle fasette van die lewe word verstaan uit die konsep van roeping en die sterk gedebatteerde verkiesingsleerstelling word geformuleer om te wys na die partikulêre van God se aktiwiteite en benadruk dat God nie op meriete kies nie. God se inisiatief word herken. God het altyd eerste lief. Die kerk word geïdentifiseer deur ware prediking van die Woord en die ware/egte bediening van die sakramente.
Gereformeerde spiritualiteit het ʼn sterk fokus op opvoeding en wetenskap. Calvyn, in sy Institutisie, herinner ons dat alle kennis van God kom en daarom lei selfs nie Christelike filosowe en wetenskaplikes ons in God se waarheid in. Die sterk fokus op opvoeding maak van die Gereformeerde spiritualiteit nie ʼn anti-intellektuele tradisie nie. Gereformeerde spiritualiteit herinner ons aan die “hoe langer
hoe meer” van die Heilige Gees se werk in ons lewens, soos mooi
geformuleer in die doopformulier: “Dat die Here ons deur hierdie sakrament verseker dat Hy deur sy Gees in ons woon en ons lewe daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.”
In die Suid-Afrikaanse konteks kan Gereformeerde spiritualiteit geproe word in die Liedere en Belydenisse van Liedboek van die Kerk, Sionsgesange, Die Heidelbergse Kategismus, Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Dordtse Leerreëls en die Belhar Belydenis.
Uittreksel uit Die volheid van alles – ‘n woordeskat van spiritualiteit. Bladsye 176 – 180. Met spesiale vergunning van die outeur, Lisel Joubert.